Masjiengids

Jou keuse tussen die verskillende verhoogde druk lugwegmasjiene hang af van:

  • Die tipe slaapapnee wat jy het: sentrale slaapapnee (funksie van brein wat asemhaling beheer werk minder goed) (CSA).

  • Versperring in die lugweg – obstruktiewe slaapapnee (OSA); of ’n kombinasie van lg. twee.

  • Die erns van die slaapapnee en ander toestande wat saans jou slaapasemhaling beperk, speel ’n rol.

  • Hoe jy op die terapie reageer.

’n CPAP masjien is ’n toestel wat ’n konstante kontinu positiewe lugwegdruk handhaaf. Die druk waarby die masjien werk, moet vooraf ingestel word om die gebruiker se toestand reg te beheer.

Die masjien help vir

  • Obstruktiewe slaapapnee.
  • Boonste lugweg obstruksiesindroom (UARS).
  • Snork.
  • Ligte, matige en ernstige slaapapnee.

Die konstante lugvloei vanaf die toestel wat d.m.v. ’n masker aan die lugweg voorsien word, verhoed dat jou sagte verhemelte sak en die lugweg versper. Jy sal dus deurlopend asemhaal en goeie suurstofvlakke handhaaf deur die nag.

Boonste lugweg obstruksiesindroom kom voor tussen matige snork en volle apnee. Indien weef-sel wat sak, soos die sagte verhemelte, die lugwegkanaal verklein, veroorsaak dit weerstand teen die lugvloei. Jy sal dalk nie ophou asemhaal nie, maar swaar asemhaal. Lug beweeg moeiliker na jou longe toe. Omdat jy harder en harder moet werk om suusrstof by jou longe te kry, sal jou brein probeer kompenseer deur jou wakker te maak. Indien hierdie toestand nie betyds behandel word nie, kan dit lei tot sentrale slaapapnee.

Wanneer ’n mens snork, vibreer die sagte los weefsel in die keel wanneer in- of uitge-asem word. Dit kan aanvanklik net ’n irriterende geluid wees, maar kan die eerste aanduiding wees van ontwikkellende boonste lugweg obstruksies en later lei tot sentrale slaapapnee.

’n CPAP masjien sal jou slaap verbeter. Die masjien hoort heelnag elke nag gebruik te word.

As jy beter slaap, verbeter jou gesondheid feitlik onmiddellik – jy hou op met snork en jy sal baie minder slaperig wees deur die dag. Jy sal beter kan konsentreer. Hoewel ’n mens dit nie dadelik agterkom nie, kan bestuur van jou apnee ernstige langtermyn gesondheidstoestande soos kroniese hoë bloeddruk, kardiovaskulêre siektes en die risiko van beroerte voorkom.

Die masker wat saam met die CPAP gebruik word, het ’n poort waar lug met verhoogde suurstofkonsentrasie vanaf ’n suurstof-konsentreerder ingevoer kan word sodat suurstofverrykte lug ingeasem word. Onder toestande van asemnood kan genoeg suurstof dan steeds opgeneem word.

Die masjien wat basies bestaan uit ’n waaier wat gefiltreerde lug uit die atmosfeer neem en dit saamdruk, word saam met ’n pyp en ’n masker gebruik.Die verhoogde druklug word na die lugweg gekanaliseer deur ’n pyp wat aan ’n masker gekoppel is.

Die bevogtiger (waterbak met verhittingselement) van die masjien kan aangeskakel word om uitdroging van die lugweg te verhoed.Die masker kan slegs die neus of die neus en mond verseël. Die keuse hang af van voorkeure en die kliënt se gesigsvorm.

’n Mens moet verskillende opsies probeer en kyk wat die beste vir jou werk. CPAP masjieene en hul komponente moet van tyd tot tyd getoets, vervang en gediens word.

Outomatiese positiewe lugwegdruk masjiene (APAP) is selfverstellende positiewe lugweg drukapparate wat die druk wat die gebruiker benodig, outomaties verstel tot op ’n gerieflike vlak sonder dat dit vooraf geprogrammeer word. ’n APAP masjien is dus goed vir individue wat verskillende drukke deur die nag vereis. Die APAP masjien verstel dus tot by jou ideale druk vir elke asemteug.

Hierdie slim eienskappe van die masjien sal persone baat wat

  • ly aan allergieë ;
  • verstopping ondervind;
  • daarvan hou om op hulle rûe te slaap;
  • apnee tydens vlakker droomslaap REM(rapid eye movement)-fase ervaar;
  • van slaappatroon verander deur die nag.

Hoewel mense met obstruktiewe slaapapnee vind dat CPAP masjiene hulle baie help, kan hulle gemakliker slaap met APAP masjiene, omdat hulle voel dat hulle natuurliker asemhaal.

’n Mens sal byvoorbeeld ’n APAP verkies indien jou apnee toeneem tydens die vlakker REM-slaap stadium, terwyl dit minder voorkom tydens ander slaapstadia . As die hoër druk gebruik word tydens die ander stadia, kan dit ongemaklik wees. Die APAP sal na behoefte die druk instel.

Indien jy baie in jou slaap beweeg – deels op jou sy slaap en deels op jou rug, kan die slaapapnee- en snorkepisodes verander met jou slaapposisie. In die een posisie kan ’n hoër druk vereis word as in die ander. Op die rug sak die sagte verhemelte weens gravitasie en hoër druk is dan nodig om die lugweg oop te maak.

’n APAP is ook ideaal geskik vir persone wat onmiddellik wil begin met terapie en nie eers wil wag vir ’n titrasietoets/slaapstudie om vas te stel by watter druk die CPAP ingestel moet word nie.

Bloot die aanpasbaarheid van die APAP om voorsiening te maak vir

  • posisie,
  • veranderde slaappatrone,
  • verkoue of
  • allergietoestande

kan hierdie masjien die voorkeurkeuse maak.

’n APAP masjien kan gestel word om by een druk te werk soos ’n CPAP, maar ’n CPAP kan nooit soos ’n APAP werk nie.

BiPAP masjiene is tweevlak positiewe lugwegdrukapparate met verskillende drukke vir in-en uitasem tydens ’n asemhalingsiklus, anders as ’n CPAP wat slegs ’n enkele druk lewer.

’n BIPAP sal die aangewese keuse wees indien die pasiënt nie een konstante druk vir in- en uitasem kan hanteer nie, m.a.w. hulle kan nie aanpas by die hoë druk waarteen hulle moet uitasem nie. Die BiPAP lewer verlaagde uitasemdruk en vergemaklik uitasem.

Wanneer ’n persoon aan ernstige slaapapnee ly wat hoër inasemdruk vereis, kan dit moeilik wees om met ’n volmasker of neusmasker teen die hoë druk uit te asem. Dan kan ’n instelling vir verlaagde uitlaatdruk uitasem vergemaklik.

Indien ’n mens nie genoeg kan uitasem nie, kan daar ’n verhoogde opbou van koolsuurgas wees wat meebring dat jy nie genoeg suurstof inasem nie. Die opbou van koolsuurgas kan die suurstofgas-vlakke in jou bloed verlaag en orgaanskade veroorsaak.

Daar kan onderliggende gesondheidsprobleme wees wat jou vermoë om teen hoë druk uit te asem bemoeilik. Dit sluit in chroniese obstruktiewe longsiektes, sentrale slaapapnee, vetsug hipoventilasie en ’n kombinasie van obstruktiewe slaapapnee en chroniese obstruktiewe longsiektes (oorvleuelsindroom) of ’n beperkende element wat jou asemhaling affekteer wanneer jy slaap.

Met ’n BiPAP kan die nodigheid van ventilators – geforseerde ventilasie deur tragiale intubasie (om ‘n buigsame plastiekbuis in die lugpyp te plaas) – verminder word. Verblyf in die hospitaal /intensiewe sorg en sterftes is verminder volgens ondervermelde gepubliseerde studie.

BiPAP masjiene kan aan suurstofkonsentreerders (wat suurstof uit lug konsentreer deur van die stikstof uit te haal) gekoppel word om aan kliënte lug wat verryk is in suurstof te voorsien. Dit kan help om die suurstofvlakke by persone met beperkte long- en gaswisselingvermoë te verhoog.

Annals of Internal Medicine, ‘n akademiese tydskrif van die American College of Physicians een van die mees aangehaalde en invloedrykste spesialiteitstydskrifte ter wêreld. https://acphospitalist.org/archives/2010/09/tech.htm. Onder die titel ICU Lessons on COVID-19 From Italian Front Line: Be Flexible https://www.medscape.com/viewarticle/927432 verskyn soortgelyke inligting.
 

This magazine is one of the most quoted and influential speciality magazine in the world. https://acphospitalist.org/archives/2010/09/tech.htm. Similar information can be found under the title: ICU Lessons on COVID-19 From Italian Front Line: Be Flexible https://www.medscape.com/viewarticle/927432

 
afAfrikaans